Friday, July 17, 2009

Spaar: 'n Riemtelegraaf


As dit nie vir Allan Gray was nie, het ek ook nie geweet dat Julie Spaar-maand in Suid-Afrika is nie. Blykbaar, is daar ook iets soos die Suid Afrikaanse Spaar Instituut. Dit is egter te verstane dat die Oktoberfest meer betekenis het as Bewahrenzeit as jy na die syfers kyk.

Suid-Afrika Spaar Nie

In 'n onlangse uitgawe van GrayIssue, skryf Rob Formby van Allan Gray Bate Bestuurders dat die spaarkoers van die land op 'n all-time low is.

Hoe meer verdien word, hoe minder gespaar word.

Hierdie grafiek toon (i) die gemiddelde persentasie wat gespaar word in Suid Afrika en (ii) die toename in inkomste van die gemiddelde huishouding.


Die meeste wat Die Land nog ooit gespraar het, was net so oor die 5% van 'n huishouding se besteebare inkomste (met ander woorde, die geld wat oorbly nadat belasting afgetrek is) in 1992. In 2005 het mense net bloot opgehou om te spaar.

Spaar: Die Konsep

Meeste mense dink dat spaar uit een handeling bestaan: Vat geld wat jy andersins sou spandeer en bere dit op 'n veilige plek. Hierdie is net die eerste stap. Jy kan elke sent wat jy het spaar en nog steeds nerens kom nie.

'n Vuur kan tog net brand as al drie elemente teenwoordig is: Hitte, Suurstof en Brandstof .

Net so bestaan die spaar-konsep uit drie elemente:

1. Die spaar handeling
2. Die persentasiekoers wat jy verdien
3. Die tyd wat jy die geld los om te groei

Tyd
Nie een van die drie elemente is regtig belangriker as die ander nie, maar as ek een moes uitsonder, is dit tyd. As my Franse Hugenote Vader byvoorbeeld maar net vir my in 1688 die ekwiwalent van R1 in die bank gelos het, wat 6% kon verdien, sou dit vandag ongeveer R44 347 173 147.00 werd gewees het.

Die Spaar Handeling
Hierdie is die element wat die maklikste verstaan word maar die moeilkste is om vol te hou. Blykbaar, na die 2de wereldoorlog het die Amerikaanse regering besluit om al meer en meer mense aan te moedig om geld te bestee. Dit het natuurlik die ekonomie aan die gang gesit, maar het gely tot 'n generasie vir oombliklike gratifikasie.

Kyk gerus die volgende keer as jy by 'n stukkende verkeerslig stop, hoe ongeduldig mense is, en self raak ek skoon angstig want behoede jou as jy te vroeg wegtrek, te laat begin ry, te stadig draai of oh hemel...die kar laat vrek! Mense toet en gil en beduie asof hulle in kraam is.

Gevolglik is dit heeltemal te verstane dat mense sukkel om te spaar want wat jy vandag onder jou bed sit moet oornag verdubbel.

Groeikoers


Spaar kan baie vergelyk word met die plant van 'n boom. Jy gooi tog nie die boom sy hele lewe nat nie. Nee, aan die begin gooi jy water, en as die boom bietjie sterker is, kan jy maar vergeet van hom - hy kyk na homself. Net so is dit met 'n belegging.

Die groeikoers is die 3de belangrike element wat bepaal hoe groot jou beleggingsboom gaan word.

As jy R10 000 in 1974 op die Johannesburgse aandelebeurs bele het, sou jou belegging oor die volgende 35 jaar met 17,2% per jaar gegroei het tot R2 600 000 vandag.

Indien jy eerder die geld in die bank gesit het, so dit steeds teen 'n billike tempo van 13,1% gegroei het, maar die verskil van 4,1% sou 'n uiteindelike verskil van R1 853 000 veroorsaak het.

Met ander woorde, jou bankrekening sou maar op 'n skamele R747 000 gestaan het versus R2 600 000 vir die aandele belegging. Waar jy jou boom plant, bepaal hoe strek hy gaan groei.

Hierdie grafiek illustreer die verhouding tussen die spaarhandeling en die groeikomponent oor tyd.


Aanvanklik bestaan die belegging hoofsaaklik uit die geld wat jy insit. Na 30 jaar is dit duidelik dat jy self eintlik maar kan ophou in te sit: Die groei komponent verteenwoordig meer as twee derdes van die belegging.

Verban Die Polis
Die spaar probleem word vererger in Suid-Afrika met die bestaan van polisse. Mense wat wil spaar, word 'n rat voor die oe gedraai deur misleidende advertensies. 'Education Plans' soos dit alom bekend staan word daaglik by die duisende verkoop aan die onkundige publiek.

'n 'Education Plan' is niks anders as 'n uitkeerpolis nie en in my opinie 'n mors van geld. Die enigste rede waarom dit verkoop word is omdat die sogenaamde Finansiele Adviseur op 'n R300 per maand polis ongeveer R1 000 kommissie verdien versus die R10.25 per maand vir 'n R300 p.m. direkte unit trust.

So sien ons elke dag kliente wat met hierdie gemors sit omdat hulle wil spaar maar onkundig is en nie van beter weet nie. En as die bemarking van die Nasionale Spaar Maand enige aanduiding is van die stand van sake, sal ons ook nie op die Spaar Instituut kan reken om Jan Alleman te waarsku teen polisse nie.

Ten Slotte
Indien jy daardie R10 000 in 1974 by Allan Gray bele het, sou jou belegging gegroei het teen 'n tempo van 27,9% per jaar tot 'n bedrag van R55 600 000.

Dit is heelwat meer as die armsalige wat met goeie bedoelings sy geld in die bank gesit het, en nou R747 000 het.

Kom ons wees eerlik: Spaar is noodsaaklik as jy welvaart wil bou. Dink vir 'n slag aan jou kinders se kinders en begin om vandag R150p.m. te spaar 'n iets soos SATRIX 40. Sit die geld weg en vergeet daarvan. Jy sal nie spyt wees nie en die maand van Julie sal elke jaar vir jou meer beduidend raak as die tans koue teels wat jy moet trotseer voor jy in die stort of bad klim.

Bron: Allan Gray Asset Managers. The GrayIssue. No. 94. 10 Julie 2009